Tuesday, March 16, 2010

Dag 20: Montagu tot Robertson

Onse mense (ek praat nou oor die algemeen van die blanke Suid-Afrikaners [is nie naastenby so plesierig nie!]) het ongelukkig, weens omstandighede, bietjie die klits kwytgeraak. Ons (en ek sluit myself in - en weer eens, dis 'n veralgemening) is socially bietjie retarded. Ons het lankal vergeet hoe om mens te wees.

Kyk nou maar na die plattelanders. Die klein-dorpie mense. Hulle is sosiaal, joviaal, vriendelik - nog mens. Dan kry jy die (waarskynlik verwilderde Gautenger) wat jou aanstaar asof jy van Mars af kom. En ons lyk seker tans bietjie verweer en of ons dalk nie meer blank is nie van te veel ure in die son deurbring, maar rerig - dis nie nodig om oopmond te staar nie. En waag een van ons dit om te groet, val die ou se tor heeltemal af. Wat gewoonlik gepaardgaan met 'n nek afdraai 180 grade in die ander rigting.

Vandag weer sit ek by 'n padstal onder 'n boom - waar en hoe dan nou anders? Verbygetrippel kom mammie met 'n wye draai en staar so dat sy byna in 'n Corsa bakkie vasloop. Pappa word aan die arm gepluk om ook te kyk, waarop hy terstond hom dwars draai om die gedoente onder die boom te sien. En natuurlik moet mamma kyk dat pappa reggekyk het, en ek waag dit liewer nie om te wuif nie.

Die rede vir ons a-sosiale gedrag is waarskynlik omdat elke wuifende hand gewoonlik draai na 'n bakhand en elke 'hallo' eindig by 'n 'geldjie'. Ons het afgestomp geraak.

Vanaand op Robertson, eet ek 'n kilogram groente op! Moeg gepasta, biltong, tuna, pruimedante en neute. Ek kan nie onthou wanneer ek laas eiers, uie of kaas geeet het nie! Murgpampoen! Wortels! Eiervrug! - meer as 20 dae gelede laas.

Met die Argus op sy rug, was die pad vandag baie besig. Heelwat fietsryers met 'n mengsel van baie vriendelik tot baie onvriendelik. Die pas net buite Montagu is 'n pragtige kronkelende paadjie tussen die berge deur - nie eintlik bedoel (of spasie!) vir voetgangers nie. Het 'n paar benoude oomblikke beleef, maar dit was heeltemal die moeite werd.

Ons arriveer teen half-5 by die Robertson Backpackers waar Charles en Landy uit hul pad gaan om ons welkom te laat voel. Ons maak vinnig kos en na 'n glasie wyn, is ons in die vere. More is weer 'n lang dag.

Posted from Blogium for iPhone

No comments:

Post a Comment