Monday, March 22, 2010

Dag 24: Wellington tot Malmesbury

The ministry of funny walks

Soos wat gewoonlik gebeur as jy 'n niggle iewers het, begin jy anders loop om daarvoor te kompenseer. Die gevolg is 'n nuwe niggle met 'n nuwe loopstyl. Wat natuurlik weer ander kwale tot gevolg het. And so it goes. Alles wat kan ingee of oppak gebeur op sulke lang uithou-trips. Van blase tot bursas tot shins tot soolvratte. En jy hinkepink al hoe meer en dit lyk al hoe snaakser - elke dag anders.

Ons vertrek later as waarvoor ons gehoop het uit Wellington. Vroegmore stap ons tussen die huise deur terwyl mense regmaak vir werk en ander nog vinnig hulle oggend draffie probeer inkry. Nie lank nie of ons bereik die kleurling woonbuurt waar skoolkinders in die strate afstap oppad skool toe. Almal groet baie vriendelik en die algemene gevoel is vrolik en positief. Een man beduie vir sy sesjarige hoe om die pad oor te steek en stap dan fluit-fluit terug in sy huis terwyl hy vriendelik vir ons wuif.

Ons stap 'n paar kilometer op die Stellenbosch pad waarna ons dan afdraai op die R45 na Malmesbury. En skielik lyk die hele omgewing anders. Weivelde met heuwels sover as wat jy kan sien.

Die gras langs die pad lewe behoorlik. En dan sien jy die diertjies teen die spoed van weerlig tussen bossies hardloop. Veldmuise (of is dit dalk rotte?). Hulle hardloop behoorlik miniatuur klein voetpaadjies uit. En natuurlik is dit lekker take-out vir die slange, so ons kyk meer op die grond voor ons voete as om die omgewing te waardeer! Heelwat slangvelle en doodgeryde slange laat jou besef dat die geritsel in die gras dalk nie altyd muise is nie ...

Dis 'n lang warm dag en hier en daar stap ons tussen wingerdplase deur. Plaaswerkers skree en groet en ons soek skuiling onder omtrent die enigste boom op die pad.

Dis eienaardig as jy so terugkyk oor die pad waarmee jy gekom het en skielik lyk dorpe nie meer so ver uitmekaar nie. Agter ons in die verte lê die Du Toitsberge en jy weet aan die voet daarvan is Wellington. Net langs dit is die Slanghoekberge waardeur Bainspas loop en jy besef skielik hoe ver jy in twee dae gevorder het. En terselfdertyd weet jy ook Malmesbury lê net agter die volgende berg. So naby en tog so ver.

Ons bereik Malmesbury teen half-7 waar ons gasheer ons oplaai en by Spar aangaan voordat ons teen donker tuisgemaak word in 'n tuin kothuis - heeltemal privaat en pragtig mooi. Margot en Frank het ons verblyf gesponsor in hulle gastehuis, Bergzicht. En so kom nog 'n dag tot einde.

Posted from Blogium for iPhone

No comments:

Post a Comment