Monday, March 1, 2010

Day 6: Haarlem to Uniondale


Haarlem is 'n klein-klein landelike dorpie met ongeveer 9 blanke inwoners. As gevolg van die droogte het die damvlakke gedaal tot net 20% wat tot gevolg het dat die water nie regtig meer "fit for human consumption" is nie. Gelukkig het 1 inwoner 'n fontein op sy landgoed wat almal van drinkwater voorsien.

Die nare gevolg van die water probleem is dat my heerlike bad van die vorige aand, waar ek my moee voete lekker ge-soak het in die onsuiwer water (waarvan ek op die tyd onbewus was), die blase heeltemal ontsteek het. Alles is opgehewe, rooi en vuurwarm.

Ons spring net na 6-uur weg terwyl die lug nog koel is en die son net-net mik oor die berge. Na ongeveer 5km kom die spuitnaald weer uit en Gerry besluit om hierdie keer die gevreesde bruin voggies toe te dien. 'n Paar vloeke later, Berocca Calmag as troosprys en ons is vort.

Hierdie deel van die pad is steeds deel van die Langkloof alhoewel 'n vroeere bord aangedui het dat die Langkloof net anderkant Misgund stop. Die rede hiervoor is die Oos-Kaap/Wes-Kaap grens, en watter munisipaliteit vir die bord betaal! Oos-Kaap, betaal, so wat hulle aanbetref eindig die Langkloof op die grens...

Die paadjie loop steeds op en af teen die bultjies en weerskante appel en peer boorde. Plek-plek is plukkers soms al singende en soms kastig skellend op mekaar, hard aan die werk op lang lere tussen die bome. Teen ongeveer 12:00 bereik ons Avontuur. 'n Entjie voor ons in die pad hou 'n voertuig stil en 'n vrou klim uit met die Kouga Express koerant. "Is dit julle die?", en vra of ons die beriggie al gesien het. Hulle is boere in die omgewing en besit ook 'n gasteplaas naby Avontuur.

Die laaste paar dae is bloedig warm wat dit onmoontlik maak om drinkwater onder "warm" te hou. Nog ongeveer 12km en ons bereik die einde van die Langkloof in die Uniondale omgewing teen ongeveer 14:30.

Ons gaan tuis by Kammanassie Backpackers op Uniondale, wat ook aan Peter Earle behoort. Norman en Sue, die managers, bederf ons met 'n hele kamer plus badkamer vir onsself, asook 'n heerlike aandete.

O ja, en my verkoue is ten spyte van - eerder as gevolg van - die nat weer, sonbrand en blootstelling aan die elemente 100% beter!

Posted from Blogium for iPhone

1 comment: