Tuesday, March 23, 2010

Dag 26: Darling tot Yzerfontein

"Come with me, together we can take the long way home." Tom Waits.

Vir oulaas herhaal ons die roetine wat vir omtrent 'n maand so deel geword het van ons lewe: vroeg opstaan, ongeveer 6-uur begin stap, twee of drie stoppe vir lunch ens op die pad, tien tot veertien ure later arriveer by ons volgende bestemming, kos koop waar winkels oop en beskikbaar is, gou was, kosmaak en eet, wasgoed was, voete versorg, web en FB updates, en slaap. Herhaal.

Teen hierdie tyd, omdat dit herfs word en ons al so ver wes gestap het, word dit eers na half-7 lig. Dis 'n rustige, half-mistige Sondagoggend op Darling.

Nadat ons ons gashere gegroet het, stap ons met 'n groot bult af, deur die half-slapende dorp. Hier en daar is mense besig om reg te maak vir kerk, terwyl 'n groot klomp besoekers, wat deelgeneem het aan 'n rally buite die dorp, besig is om karre aan te haak en op te pak vir hulle terugtog huistoe.

Teen omtrent half-8 stap ons by die dorp uit op die R315 pad na Yzerfontein. Wat 'n eienaardige gevoel om te weet dis die laaste keer wat ons op hierdie trip vroeg in die oggend uit een dorp stap oppad na 'n ander. Die laaste keer wat ons rugsakke opsit en met seer voete en lywe 'n hele dag in die natuur gaan deurbring. Die laaste keer wat ons heeldag langs 'n hoofpad is en gesels met mense wat stop, waai vir byna elke kar wat verbykom en toet of waai. Die laaste keer wat ons die doel van die stap verduidelik.

Dit is terselfdertyd 'n rustige en tevrede gevoel, maar ook 'n onrustige gevoel. Een van, wat nou? Wat volgende? Waar volgende? En hoe? Vir 'n maand lank het jy een doel voor oë gehad en nou's dit skielik nie meer daar nie. Afgehandel. Klaar gedoen. Is dit dalk die post-event depression waarteen vriend Dave ons gewaarsku het?

Die eerste 15km is undulating terwyl die koel bewolkte luggie vir 'n slag keer dat die son ons nie in die grond brand nie. Reuse slangvelle en doodgeryde slange is langs die pad. Koper kapelle - dodelik giftig. 'n Motor met twee bejaarde tannies stop om vir ons 'n lift aan te bied en vir die soveelste keer is ek verstom dat mense dit nog waag. Wie sê ons is nie twee skelms wat hulle van al hul besittings gaan beroof nie? Of het die media ons gek gemaak met al die negatiewe propaganda oor crime in ons land? Is ons onnodiglik paranoies?

Op die plek waar ons die R27 kruis is die Weskus Padstal en ons besluit om gou af te trek vir 'n bier en pastei. Nog net 9km en jy kan nie besluit of jy dit so lank as moontlik wil uitrek of so gou moontlik wil oorkry nie. Uiteindelik sien ons Yzerfontein in die verte en soos soveel kere tevore is dit onwerklik om terug te kyk en die berge in die verte te sien waar jy vroeër die dag begin het. So nou en dan waai 'n sweempie seelug verby en jy weet dis nou nie meer ver nie. Nico en Ida, ons lift aan die einde, kom van agter verby en stop gou vir 'n vinnige chat en grappie of twee.

En dan bereik ons na 26 dae die einde van ons journey met 'n paar vriende wat ons inwag: Nico, Ida, Stefan, Dewalt, Pieter, Marelize en Pierre. Pieter en Marelize bied middagete aan en ons kuier heerlik op hul stoep tot die son sak oor die see.

Ek hoor sommer hoe die ratte in ons koppe draai soos ons werk aan 'n volgende avontuur. Sorry ma en ma - nog is het einde niet!

Posted from Blogium for iPhone

No comments:

Post a Comment