Friday, March 5, 2010

Dag 9: Louvain tot Zebra Lodge (40km in 40 grade C)

Het jy al ooit buite in die son gestaan as dit 40 grade C is? Het jy al ooit heeldag buite in die son gestaan as dit 40 grade C is? Het jy al ooit heeldag buite in die son gestap met n rugsak op as dit 40 grade C is? Sien waarheen hierdie storie lei - ek probeer net die punt maak van ongelooflike, uitmergelende hitte. Die tipe waar jy in n half beswymende toestand stap terwyl jy jou verbeel elke klip en elke stok is n mamba of ander gedierte!

Louvain gasteplaas is pragtig, kompleet met kerkie en al vir jong boertjies van die kontrei wat "die knoop wil deurhaak". Ons vertrek eers half-7 en moet die ongeveer 2.5km op die plaas ook stap voor ons weer die R62 bereik. Almal met wie ons praat stel voor dat ons die plaaspaaie stap wat ongeveer parallel aan eers die N9 en dan die N12 loop, maar dalk 'n paar kilometers langer is.

Dit klink sommer na 'n bak plan om vir 'n slag grondpaaie in plaas van snelwee te stap, en na ongeveer 8km op die N9 (Route 62) draai die grondpad af om deur die Eseljagspoort te gaan. Ons stop vinnig om voete te lawe en versterkings te eet en begin dan met die 24km stuk grondpad.

Nie 'n kar in sig nie en ons kan lekker in die middel van die pad stap om seker te maak dat daar nie dalk onverwags 'n slang uit die gras seil nie! Stadig maar seker gaan die kilometers verby terwyl die kwik reeds op 40 grade staan. Het jy al ooit ...? :)

Baie gou is al 8 liter water wat ons saamdra ook 40 grade - selfs die wat tussen ander goed in die middel van die rugsak gepak is! Alles insluitend die rugsak is kokend warm en op die hele pad is nie 'n boom in sig nie.

Ons loop later mekaar se skaduwee en probeer onthou hoe gaan "Oom Jan sny koring in die land". Die omgewing is droog, klipperig en baie stof. Lyk na meerendeels volstruis en skaapboerdery. Plek-plek waar daar w dammetjies water is, staan die bekommerde skapies in hul hordes pensdiepte in die water.

Teen 17:20 bereik ons die einde van die grondpad waar dit weer aansluit by die N12. Nog n kilometer verder en die afdraai na Zebra Lodge is op links. Van hier nog 3.5km tot by die pragtigste ou plaashuis waar ons tuisgaan. Gelukkig kry die eienaar ons sommer vroeg in die inrit en kan ons saamry huistoe.

Ons drink n hoendersoppie op die stoep en kyk hoe die son ondergaan. Op die horison is n paar vlieswolkies en heimlik hoop ons hulle wil hul stem dik maak en damme vol reen!

Posted from Blogium for iPhone

1 comment:

  1. Ag nee julle twee na so 'n warm dag in die son en jule drink hoendersop!!! Is julle siek?
    Wonder wat Nina hiervan sal se?

    ReplyDelete