Thursday, March 18, 2010

Dag 22: Worcester tot Calabash Pub - maats kom kuier!

Die Klein-Karoo is aanmekaar gesit met spoeg en riete. :) So voel dit. Party plekke meer so as ander. Elke blyplek en kuierplek het of 'n rietdak of 'n rietskerm of 'n ander rietstellasie, maar riete is oral. Langs die pad, op sypaadjies, in droë strome, maar die meeste nog is net voor Worcester. Plate, sover as wat jy kan sien. Geen wonder almal gebruik dit as boumateriaal nie!

Worcester gee nie 'n lekker gevoel nie. Miskien is dit die reuse hoë-digtheid, lae-koste behuisingarea wat mens aan die kant van die dorp kry net voor jy die stad tref. Ons eerste indruk van die dorp. Of is dit al 'n stad? En volgens die locals vrot van die crime en gangsters en glad nie 'n plek waar jy in vrede wil stap in die skemer nie. Ons gasheer het gelukkig dit goedgedink om ons op te pik net voor ons die plakkers area bereik het. Dankie Elize en Neil!

Die stap uit Worcester was ook minder aangenaam. Die paaie is verskriklik besig en om op die R43 te kom, moes ons 'n deel op die N1 ook stap. Dis miskien deels waarom Worcester nie vir my goeie herinneringe bring nie; dis te groot, te onpersoonlik, te besig, te veel en vinnige karre op die pad.

Nodeloos om te se^ is die dag se stap minder aangenaam. Mens kan nie met mekaar praat nie want die verkeer raas te veel en ons moet in 'n ry stap en die heeltyd dophou vir jaagduiwels wat van agter af verby kom.

Teen lunchtyd bereik ons uiteindelik 'n deel waar die druiwe boere 'n grondpaadjie langs die pad teen die plaasheining met trekkers en sleepwaens uitgery het. Tog te lekker kan ons in vrede die laaste ongeveer derde van die pad stap.

Die pad loop verby Bothakelder, en later ook Waboom, Slanghoek wynkelder en uiteindelik Bergsig.

Na middagete besluit Gerry om bietjie my sak te dra om die pote te spaar (soos wat hy maar van tyd tot tyd doen as ek swaartrek). Ons grootste worry is om uit te kyk vir slange op die grondpaadjie en ons stap nog so lekker toe 'n boer op sy motorfiets aangery kom met twee seuns wat saam lift - een voor en een agter. "Vertel my julle storie", sê die man en Gerry begin verduidelik van die waterbewustheids-inisiatief en so voorts. Waarop hy my so een kyk gee en sê: "En is dit jou afdag?" ... En ek dink so by myself ... Jaaa, swaaaer ...

Nietemin, ons gesels nog so lekker oor allelei en so kom dit uit dat Riaan die eienaar is van 'n plaas wat onder andere droëvrugte maak. Die Rietdakkie is 'n padstal wat onder andere hulle droë vrugte verkoop. Dit word ook verkoop by die Tuinroete Agri winkelreeks. So stop hy 'n halfkilogram droë vrugte in my hand en sê: "Hierso, jy kan darem nie niks dra nie". :)

Hy verduidelik dat dit omtrent nog 8km is tot by Calabash Bush Pub waar ons vir Nico en Ida ontmoet vir 'n kuiertjie. Hulle het besluit om vinnig deur te ry vanaf Riebeek Kasteel en is dit nou nie absoluut 'n treat om 'n slag bekendes te sien nie!

En so kom nog 'n dag tot 'n einde en ons begin reeds wonder hoe die lewe gaan wees sonder hierdie ding wat nou al heeltemal deel geword het van ons lewe ...

Posted from Blogium for iPhone

No comments:

Post a Comment